Du Toit Genis (29), ’n meestergraadstudent in sielkunde, is vasberade om traumaberading te doen wanneer hy sy kwalifikasie voltooi het.
Danksy die hulp van AfriForum is hy nou nader daaraan om sy droom te verwesenlik. Die druk wat dié burgerregte-organisasie uitgeoefen het op die Raad vir Gesondheidsberoepe (RGB) om Genis as ’n intern-sielkundestudent te registreer het vrugte afgewerp.
Genis het hom tot die organisasie gewend nadat die RGB sy aansoek om registrasie geweier het omdat sy honneursgraadsertifikaat in Afrikaans is. Die raad het nou wel die sertifikaat aanvaar en hom geregistreer, maar slegs nadat AfriForum se regsverteenwoordigers, Hurter Spies Ingelyf, ’n semidringende hofaansoek teen die RGB ingedien het. Die saak is teruggetrek nadat die raad se regsverteenwoordiger skriftelik bevestig het dat Genis wel nou geregistreer is.
Via Netwerk24
22 Februarie 2022