Wat is Skuldberading?

Wat is Skuldberading?

Deur Jacque H Degenaar

In die seldsame tye waarin ons leef vandag is almal onder groot finansiele druk. Almal soek na maniere om deur die moeilike tyd te kom, en Skuldberading is seker die mees algemene kits oplossing wat bespreek  word. Daar bestaan heelwat onduidelikheid en wanopvattings oor presies wat Skuldberading is, wie daarvoor kwalifiseer, en wat die voordele daavan is.

Wat is Skuldberading?

Die Nasionale Krediet Wet 34 van 2005 het op 1 Junie 2007 in werking getree.

Die doel van die Wet was om krediet verbruikers te beskerm teen die somtyds roekelose gedrag van kredietgewers sowel as om ‘n regsgeldige proses as hulpmiddel aan oorverskuldigde verbruikers te bied.  Die Wet skryf verder voor dat hierdie proses deur gekwalifiseerde en geregistreerde Skuldberaders bestuur word en dat skikkings met krediteure in die vorm van ‘n hofbevel vasgelê word.

Dit is belangrik om te weet dat die Wet geen voorsiening maak vir ‘n vermindering of afskryf van skulde nie, maar wel vir die herstrukturering van die afbetaal periode en ‘n hersiening van rente koerse.

Wie kwalifiseer vir Skuldberading ?

Slegs natuurlike persone met ‘n vaste inkomste kwalifiseer om aansoek te doen vir Skuldberading. Nadat ‘n aansoek suksesvol geplaas is, maak die Skuldberader ‘n evaluasie van die inkomste en uitgawes van die persoon om vas te stel of die persoon wel oorverskuldig is voordat die skikkingsooreenkoms met krediteure gemaak word, en die uiteindelike hofbevel uitgereik word.

Voordele van skuldberading

  1. Verbruikers verloor nie hul voertuig of huis

Anders as in die geval van sekwestrasie waar persone meestal hulle voertuig en huis verloor vorm hierdie skulde deel van die skuldberadingsproses en word in berekening gebring by die afbetalingsplan wat met die kredietgewers onderhandel word wat op die uiteinde in ‘n hofbevel bevestig word van hoe die afbetalings geherstruktureer is.  

  • Een enkele betaling word verdeel tussen alle krediteure

Die skuldberader onderhandel gewysigde her-afbetalings kondisies vir skulde met krediteure, wat deur die verbruiker as ‘n enkele maandelikse betaling oorbetaal word. Hierdie enkele betaling is in alle gevalle heelwat minder as die aanvanklike skuld en sal in n positiewe verhouding tot inkomste staan. Hierdie enkele maandelikse betaling word deur n verspreidingsagent aan al die krediteure oorbetaal.  

  • Beskerming teen krediteure

Terwyl die verbruiker onder skuldberading is, geniet hy beskerming teen enige regstappe wat krediteure moontlik kan neem.  Die krediteure word verplig om enige kwessies met die Skuldberader direk uit te klaar.

  • Kredietburos mag nie verbruikers onder skuldberading “swartlys” nie 

Verbruikers onder skuldberading word as sulks by Kredietburos gelys, maar nie geswartlys nie.

  • Geen nuwe krediet onder skuldberading nie

Tydens die periode onder skuldberading mag die verbruiker geen nuwe krediet toegestaan word nie wat beteken die verbruiker kry ‘n geleentheid om skuldvry voort te gaan sodra die volle betaling van alle skud bereik word. Die skuldberader sal die verbruiker voorsien van ‘n klaringsertifikaat ter bevestiging van die afbetaling van alle skulde, waarna die verbruiker weer skuld mag aangaan, en die Kredietburos alle negatiewe informasie van hulle rekords moet verwyder.