Die Skrapping van ‘n Kriminele rekord in Suid-Afrika

Die Skrapping van ‘n Kriminele rekord in Suid-Afrika

‘n Kriminele rekord kan soos ‘n swaar wolk oor jou kop hang. Min mense besef dat selfs die kleinste kriminelemisdryf groot gevolge vir jou toekoms kan inhou. Hierdie gevreesde rekord kan indiensneming, reisplanne, en immigrasieplanne in die wiele ry. Om in Suid-Afrika se huidige ekonomiese toestand werk te kry is reeds ‘n stryd, ‘n kriminele rekord maak hierdie soeke egter byna onmoontlik. Vergemalik jou stryd en vee die vlek op jou naam uit.

Wetgewing wat die skrapping vervat:

Artikel 271 van die Strafproseswet reël die skrappingsproses. Daar kan spesifiek gekyk word na Artikel 271A tot Artikel 271C van die genoemde wet om te bepaal watter vonnisse wel vir skrapping kan kwalifiseer. Die proses wat gevolg moet word is te sien in Artikel 271D van die wet. 

Kan my kriminele rekord geskrap word?

Natuurlik is daar ‘n paar hekkies waaroor jy gaan moet spring voordat jou rekord iets van die verlede is. Die eerste tree in die regte rigting is om te bepaal of jou kriminele rekord wel skoongevee kan word. Vir jou rekord om in aanmerking te kom vir skrapping is daar vereistes waaraan jy moet voldoen:

  • Vanaf die datum van skuldigbevinding moes tien jaar verloop het.
  • Gedurende hierdie tien jaar is jy nie aan ‘n ander misdryf skuldig bevind en gevonnis, sonder die keuse van ‘n boete, nie.
  • Die misdryf waaraan jy jouself skuldig gemaak het is uiteengesit wat in Artikel 271A-C van die Strafproseswet.

Daar is egter ‘n paar gevalle waar jou rekord nie in aanmerking gaan kom vir skrapping nie:

  • Waar ‘n kriminele rekord gegrond is op ‘n seksuele misdryf teen ‘n minderjarige of ‘n geestesongestelde individu.
  • Indien die oortreder se naam in die Kinderbeskermingsregister of in die Nasionale Register vir Seksueleoortreders geregistreer is. (Dit is belangrik om daarop te let dat jy wel steeds vir skrapping in aanmerking kan kom indien jou naam reeds vanaf die bogenoemde registers verwyder is).

Hier volg dan verder ‘n paar gevalle waar jy sal kwalifiseer vir die skoonmaak van jou rekord:   Misdrywe met ‘n boete  wat nie die bedrag van R20 000 oorskry nie. ‘n Vonnis van inhegtenisneming ingevolge artikel 276(1)(i) van die Strafproseswet, ‘n Vonnis van korrektiewe toesig kragtens artikel 276(1)(h) van die bogenoemde wet. Verder sal jy kwalifiseer waar daar bewys is dat jou naam verwyder is van die Nasionale Register van Seksuele Oortreders of die Nasionale Kinderbeskermingsregister.

Hoe werk die aansoekproses?

Indien jy jou kriminelerekord iets van die verlede wil maak is dit nodig om kragtens die Strafproseswet by die Direkteur-Generaal aansoek te doen vir die nodige skrapping vanaf die register.  Indien jou aansoek suksesvol is sal dit behels dat jou kriminele rekord verwyder word vanaf die Kriminele Rekord Sentrum se kriminele rekord databasis.

My kriminelerekord is geskrap, wat nou?

Wanneer jou aansoek toegestaan word, word dit geag asof jy nie die betrokke misdryf gepleeg het nie. Die kriminelerekord word permanent vanaf die Nasionale Kriminele Register verwyder. Dit kom nou neer op die feit dat jy met ‘n skoon gewete vir enige werkgewer, familie of vriende kan vertel dat jy geen vorige misdrywe op jou naam het nie. Jou kriminelerekord sal nie meer verskyn wanneer ‘n werkgewer jou verlede ondersoek nie. En jou reis- of immigrasieplanne kan voortgaan sonder ‘n vlek op jou naam.