Individue se reg tot privaatheid word beskerm kragtens Artikel 14 van die Grondwet (Die Grondwet van Suid- Afrika, 1996) en sluit onder andere die volgende regte in:
Elkeen het die reg op privaatheid, waarby inbegrepe is die reg dat–
(a) hul persoon of woning nie deursoek word nie;
(b) hul eiendom nie deursoek word nie;
(c) daar nie op hul besittings beslag gelê word nie; of
(d) daar nie op die privaatheid van hul kommunikasies inbreuk gemaak word nie
BEPERKING VAN DIE REG TOT PRIVAATHEID.
Artikel 36 van die Grondwet maak voorsiening vir die beperking van enige reg vervat in die Handves van Regte (Hoofstuk 2 van die Grondwet van Suid-Afrika, 1996) tot die mate wat so ‘n beperking in ‘n oop en demokratiese samelewing wat gebasseer is op menswaardigheid, gelykheid en vryheid, redelik en regverdigbaar is.
Individue wat hulself blootstel aan sosiale media platforms geniet nie absolute beskerming van hul reg tot privaatheid nie. Die publieke aard van sosiale netwerke kan lei tot die regverdige en regmatige beperking van die reg op privaatheid. Individue moet daarom versigtig wees wanneer hulle die sosiale media omgewing betree en nooit aanneem dat hul optrede of aktiwiteite privaat is nie.
DIE WET OP DIE BESKERMING VAN PERSOONLIKE INLIGTING
‘n Verskeidenheid wette insluitende die Wet op Nasionale Gesondheid (National Health Act 61 of 2013), die Nasionale Kredietwet (National Credit Act 34 of 2005), die Verbruikers Beskermingswet (Consumer Protection Act 68 of 2008), die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies (Electronic Communications and Transactions Act 25 of 2002) en Die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Promotion of Access to Information Act 2 of 2000), reguleer inligting wat vanaf privaat individue verkry word en verplig staatsorgane en enige ander partye om persoonlike inligting te beskerm.
Dit is alombeken dat individue se persoonlike inligting en aktiwiteite op etlike internet en sosiale media platforms versamel, analiseer en verwerk word vir bemarkings- en verskeie ander doeleindes. Dit sal moeilik wees om te bewys dat die bogenoemde individue se reg tot privaatheid skend, inaggenome die feit dat verbruikers dikwels sonder om die implikasie daarvan te besef toestemming verleen dat hul inligting versamel en gebruik mag word.
Die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting (Protection of Personal Information Act 4 of 2013) is deur die wetgewer gepromulgeer met die doel om individue se persoonlike inligting te beskerm deur die versameling en gebruik van genoemde inligting te reguleer. Die oogmerk van die bogenoemde Wet is om skade wat vir individue uit die gebruik van sodanige inligting sou ontstaan, te voorkom.
Die Wet reguleer eerstens die wyse waarop persoonlike inligting van individue versamel mag word, tweedens die omstandighede waaronder dit wettig of regmatig sal wees vir ‘n persoon of organisasie om die persoonlike inligting van ‘n ander te verwerk en derdens waarvoor die verwerkte inligting gebruik mag word.
Die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting is ‘n wetsontwerp wat goedekeur is deur die President maar wat huidiglik nog nie in werking getree het nie. Die hoop is egter dat wanneer hierdie Wet wel in werking tree daar beter beskerming vir die individu sal wees. Intussen moet individue daarop bedag wees dat daar wel maatreëls is vir beskermimg teen die onregmatige versameling en gebruik van persoonlike inligting.
WENKE TER BESKERMING VAN PERSOONLIKE INLIGTING
- Sosiale media verbruikers moet op hoogte bly van die nuutste verwikkelinge en wetgewing om sodoende ten alle tye van hul regte bewus te wees;
- Alle meganismes wat wel tot die individu se beskikking is om sy/haar persoonlike inligting te beskerm moet ten volle benut word. (Om bv te kies dat jou Facebook/Twitter/Instagram ens. profiel op “privaat” is)
- Maak seker dat jy ten alle tye bewus is van internet veiligheid.
- Sodra daar vermoed word dat persone se reg tot privaatheid wel op ‘n onregmatig wyse geskend word, moet stappe dadelik geneem word om ernstige skade te vermy.
Danielle du Plessis – Kandidaatprokureur
BCom Law LLB (UP)