Die Padongelukkefonds of te wel die “RAF” is ’n statutêre liggaam wat in kort die verantwoordelikheid dra om vergoeding te betaal vir onregmatige skade wat gely is deur en as gevolg van motorbestuurders.
Vir die afgelope vyf jaar het die RAF gebruik gemaak van ’n prokureurspaneel om alle betrokke regsaangeleenthede en skadevergoedingseise te behartig. Daar is egter onlangs deur die RAF besluit om nie meer gebruik te maak van die sogenaamde prokureurspaneel nie. Soos te verwagte het hierdie besluit van die RAF teenstand ervaar.
Die “ou” prokureurspaneel het aansoek gedoen vir ’n interim interdik teen die RAF se plan om weg te doen met die paneel. Regter Norman Davis het egter hierdie aansoek van die hand gewys in die Mabunda Incorporated and Others v Road Accident Fund-uitspraak van 27 Maart 2020. Die finansiële las wat gepaard gaan met die paneel weeg doodeenvoudig te swaar. Die prokureurspaneel is verder beveel om alle lêers te oorhandig aan die RAF.
Die probleem met die ou sisteem:
In die Mncube v RAF (MN)-saak raai Regter President Legodi regsverteenwoordigers aan dat hulle RAF-sake baie beter moet hanteer. Volgens hom ontaard die RAF-regsproses in ’n ‘geldmaakmasjien’ wat lei tot onprofessionele gedrag en ’n misbruik van mag.
In ’n De Rebus artikel van Maart 2019 (‘Is the Road Accident Fund’s litigation in urgent need of review?’) word kommerwekkende statistiek rakende die RAF se regskostes gegee: In 2019 alleen het slegs die RAF se regskostes beloop tot ‘n bedrag van R10,6 miljoen. Daar is in die artikel verder vasgestel dat indien die RAF ’n nuwe litigasiemodel aanneem, daar miljarde rande se besparings vir Suid-Afrikaanse burgers sal wees.
Die nuwe plan en span:
Die uitspraak van die Mabunda Incorporated and Others v Road Accident Fund-saak verwys na die nuwe RAF-model wat poog om soveel as moontlik sake met meriete af te handel binne 120 dae. Die doelwit is om ’n 98% skikkingskoers te bereik binne die genoemde tydraamwerk. Die RAF wil ’n ‘geintegreerde eis-asseseringsisteem’ in plek stel. Hiervoor gaan regskenners van verskeie velde se kennis en ervaring gebruik word. Die doel van die sisteem is om alle eise “binnenshuis” te asseseer, die skikkingsproses aan die gang kry en mediasie prosesse daar te stel waar sake nie maklik oplosbaar is nie.
Eksterne hulp:
Die South African Medico-Legal Assosiation of te wel “SAMLA” is genader om die RAF se quantum-eise te behartig. Waar daar steeds regsverteenwoordiging in die hof nodig sal wees gaan die RAF ad hoc vir prokureurs instruksie gee om te assisteer waar nodig. Die Staatsprokureur is ook aangevra om ekstra prokureurs aan te stel wat sake namens die RAF sal hanteer. Hierdie prokureurs sal kragtens die Staatprokureurswet 56 van 1957 en die Regspraktykwet 28 van 2014 funksioneer maar kostes sal deur die RAF gedra word.
Die nuwe plan het ten doel om kostes te bespaar en die finansiële las wat op lede van die publiek rus te verlig. Slegs tyd sal leer of hierdie hierdie edele visie wel ’n realiteit kan word.
Bronnelys:
Artikels:
- De Rebus (2019) ‘Is the Road Accident Fund’s litigation in urgent need of review?’
- De Rebus (2020) ‘The RAF to use new litigation model to reduce its litigation costs’
Regspraak:
- Mabunda Incorporated and Others v Road Accident Fund
- Mncube v RAF