Die fyn lyn tussen die reg op ‘n goeie naam en die reg op vryheid van uitdrukking

Die fyn lyn tussen die reg op ‘n goeie naam en die reg op vryheid van uitdrukking

Die reg op ‘n goeie naam word in die Suid-Afrikaanse reg erken en beskerm. Daarteenoor staan die reg op vryheid van uitdrukking, wat in die Handves van Regte beskerm word. In ‘n tyd waar veral sosiale media dit vir ons toenemend makliker maak om ons sê te sê en onsself uit te druk, word ons howe dikwels die taak opgelê om die reg op vryheid van uitdrukking teenoor die reg op ‘n goeie naam op te weeg. Ons gaan vervolgens kortliks na hierdie dikwels botsende regte kyk om vas te stel waar die lyn getrek kan word.

Die reg op ‘n goeie naam maak deel uit van ‘n groep regte wat as “persoonlikheidsregte” bekend staan. Hieronder val ook onder andere die reg op liggaamlike integriteit, eer, waardigheid en privaatheid. ‘n Persoon se “goeie naam” het te doen met die aansien wat daardie persoon in die samelewing geniet. ‘n Handeling wat ‘n persoon se aansien in die gemeenskap laat daal, skend gevolglik sy of haar goeie naam. Daar word in die algemeen na sodanige handeling as “lasterlik” of “naamskending” verwys. In die saak van Tap Wine Trading CC v Cape Classic Wines (Western Cape), wat in 1998 in die Konstitusionele Hof aangehoor is, word laster omskryf as die onregmatige, opsetlike publikasie van woorde of gedrag aangaande ‘n ander wat tot gevolg het dat daardie persoon se aansien, goeie naam of reputasie benadeel word.

Beperkings op die Reg op ‘n Goeie Naam

Met die eerste oogopslag wil dit dus voorkom of ‘n persoon aanspreeklik gehou kan word vir enige handeling wat veroorsaak dat ‘n ander persoon se aansien in die gemeenskap benadeel word. Dit is egter nie die geval nie en vloei daar uit die reg op vryheid van uitdrukking gevestigde gronde wat die onregmatigheid van laster kan uitsluit. Dit word kortliks hieronder bespreek word. Daar is egter nie ‘n geslote aantal gronde nie, en nuwe gronde kan na gelang van omstandighede ontwikkel word.

Indien een persoon ‘n ander persoon se goeie naam skade aandoen, maar die persoon kan bewys dat die lasterlike bewerings die waarheid en in die openbare belang is, is daardie persoon vry om homself uit te druk. Die tyd, plek en wyse sal bepaal of dit in die openbare belang is. Daar moet in gedagte gehou word dat ‘n persoon wel in sekere gevalle aanspreeklik gehou kan word vir ware lasterlike woorde, byvoorbeeld wanneer spreekwoordelike ou koeie onnodig uit die sloot gegrawe word, soos daar in 1994 in die saak van Kemp v Republican Press (Pty) Ltd beslis is.

In sekere omstandigede het ‘n persoon ‘n reg, verpligting of belang daarin om lasterlike bewerings te maak en het die persoon aan wie dit gemaak word ‘n ooreenstemmende reg, verpligting of belang daarin om die lasterlike bewerings te verneem. Hierdie bepaalde omstandighede staan as “bevoorregte geleenthede” bekend en dit is ‘n verdere regverdigingsgrond vir laster. Daar is byvoorbeeld al beslis dat waar ‘n predikant van ‘n gemeente onsedelik lewe, dit ‘n bevoorregte geleentheid is en dat dit ‘n lidmaat van daardie gemeente vry staan om homself daaroor teenoor die kerkraad uit te druk (Ehmke v Grunewald 1921). Só ook is daar beslis dat ouers vry is om hulself onder mekaar omtrent die bekwaamheid van ‘n onderwyser wat vir hulle kinders skoolhou uit te druk (Jordaan v Van Biljon 1962).

Mediaprivilegie is nog ‘n verdere regverdigingsgrond vir laster. Hier het ons te doen met die redelike publikasie van onware lasterlike bewerings deur die media. Die klem val egter op “redelik” en het die media steeds ‘n plig om die inligting wat hul publiseer te verifieer. Indien ‘n artikel dus met ‘n kwaadwillige motief gepubliseer word, byvoorbeeld om verkope op te jaag, sal aanspreeklikheid steeds opgedoen word.

Waar die lyn getrek kan word

Soos ons kan sien speel daar verskeie faktore ‘n rol om te bepaal waar die reg op ‘n goeie naam eindig en die reg op vryheid van uitdrukking begin. Dit is egter duidelik dat nie een van hierdie twee botsende regte absoluut is nie. Die fyn lyn daartussen word grootliks getrek deur die omstandighede waarin die laster plaasgevind het en of die publiek een of ander belang in die publikasie daarvan het.