Die jurisdiksie verwys na die bevoegdheid van ‘n bepaalde hof om ‘n saak aan te hoor en regshulp in die saak toe te staan. Die howe in Suid- Afrika kan gekategoriseer word in 3 verskillende afdelings nl. Hoër Howe, Laer Howe en Spesiale Howe. Die Grondwetlike Hof, Hoogste Hof van Appèl en Hooggeregshof kan tipies geklassifiseer word as Suid-Afrika se hoër howe. Die Landdroshof en Hof vir Klein Eise sal weer in die kategorie van laer howe val. ‘n Spesiale hof is ‘n hof met beperkte jurisduksie wat handel met bepaalde regsaspekte eerder as ‘n bepaalde territoriale jurisdiksie.
Indien ‘n bepaalde hof nie die jurisdiksie het om ‘n sekere saak aan te hoor nie mag die hof weier of selfs ‘n kostebevel toestaan teen die persoon wat die verrigtinge ingestel het. Hieronder volg ‘n kort uiteensetting van die jurisdiksie waaroor die verskillende howe beskik.
HOWE | JURISDIKSIE |
Konstitisionele Hof | Die Konstitisionele hof is die hoogste hof oor alle grondwetlike aangeleenthede. Sake word na die Konstitisionele Hof verwys vanaf die Hoogste Hof van Appèl of die Hooggeregshof. Sekere grondwetlike aangeleenthede is gereserveer vir uitsluitlike jurisdiksie van hierdie hof. Dit is gelee in Johannesburg en sake word deur minstens 8 regters aanhoor. |
Hoogste Hof van Appèl | Die Hoogste Hof van Appèl het jurisdiksie ten opsigte van siviele en strafregtelike aangeleenthede. Dit is nie ‘n hof van eerste instansie nie. Die Appèlhof hoor slegs sake aan wat op appèl geneem word. Die hof is in Bloemfontein gelee en sake word deur 5 regters aangehoor. |
Hooggeregshof | Die Hooggeregshof bestaan tans uit 15 afdelings. Dit is ‘n hof van eerste instansie maar kan ‘n appèlhof vir die Landdroshof of Hooggeregshof wees. Hierdie hof hoor siviele en strafregtelike aangeleenthede, asook aangeleenthede rakende die status van ‘n persoon aan. |
Landdroshof | Die Landdroshof bestaan uit distrikshowe en streekshowe. Daar is ongeveer 500 distrikshowe. Die distrikshowe het jurisdiksie oor geringe strafregtelike aangeleenthede en siviele aangeleenthede tot R 200 000,00. Die streekshowe het jurisdiksie oor familereg aangeleenthede soos egskeidings, onderhoud, toesig, asook siviele aangeleenthede tussen R 200 000,00 – R 400 000,00. |
Hof vir Klein Eise | Kan slegs eise aanhangig maak wat deur natuurlike persone teen natuurlike of regspersone ingestel word; nie die Staat nie. Sy jurisdikiksie is tans R 20 000,00. |
SPESIALE HOWE | |
Arbeidshof en Arbeidsappèlhof | Die Arbeidshof het dieselfde status as die Hooggeregshof. Die Arbeidshof het egter eksklusiewe jurisdiksie ten opsigte van alle aangeleenthede ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 en enige ander arbeidswetgewing. Die Arbeidsappèlhof het dieselfde status as die Hoogste Hof van Appèl en is die finale appèlhof ten opsigte van uitsprake en bevele wat deur die Arbeidshof gelewer is. |
Mededingingsappèlhof | Die Mededingingsappèlhof het die status van die Hooggeregshof. Hierdie hof beoordeel of oorweeg ‘n appèl teen enige beslissing van die Mededingingstribunaal (die Tribunaal beoordeel beperkende praktyke, misbruik of dominante posisies en samesmeltings). |
Verkiesingshof | Die Verkiesingshof het die status van die Hooggeregshof. Hersien enige besluit van die Verkiesingskommissie met betrekking tot ‘n verkiesingsaangeleentheid en appelleer teen beslissings van die Verkiesingskommissie. |
Kinderhof | Elke Landdroshof is ‘n kinderhof en het jurisdiksie oor enige aangeleentheid wat voortspruit uit die Kinderwet 38 van 2005. Die Hooggeregshof is die oppervoog van alle kinders wat jonger is as 18. |
Onderhoudshof | Elke landdroshof is ‘n Onderhoudshof (distriksvlak) en het jurisdiksie oor enige aangeleentheid wat voortspruit uit die Onderhoudswet 99 van 1998. |
Gelykheidshof | Die gelykheidshof hoor sake wat verband hou met oortredings van die Wet op die Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie 4 van 2000. Elke Landdroshof en Hooggeregshof is ook ‘n Gelykheidshof. |
Inkomstebelastinghof | Hierdie hof hoor inkomstebelasting aangeleenthede aan van persone wat ontevrede is met besluite wat die SAID-kommissaris geneem het, waar die geskil ‘n inkomstebelastingbepaling van meer as R1 000 000,00 behels. Belastinggeskille wat ‘n aanslag van minder as R1 000 000,00 behels, word deur die Belastingraad aangehoor. |
Grondeisehof | Die Grondeiesehof het dieselfde status as die Hooggeregshof en het eksklusiewe jurisdiksie ten opsigte restitusie van enige grond ooreenkomstig die Wet op die Herstel van Grondregte, kwessies van vergoeding vir die verkryging van sodanige grond. |
Hof van Hoofmanne | Hierdie hof het dieselfde status as die van die Landdroshof en hoor spesifiek gewoontereg kwessies aan. |
Militêre Hof | Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag is onderworpe aan die jurisdiksie van die Militêre Hof |
Kindergeregshof / Jeughof | Die Kinderreghof reguleer die kinderregstelsel vir kinders. |
Hof vir seksuele misdrywe | Ingevolge die jurisduksie van hierdie hof kry kinders of slagoffers die nodige respek, sorg en ondersteuning ten opsigte van seksuele misdrywe. |
Kommersiële Misdaadhof | Gee spesifiek gehoor aan sake oor handelsmisdaad. |