Te midde van ‘n nasionale grendelstaat deur internasionale pandemie van Covid-19 en die skryf van hierdie artikel, het ons almal se grondwetlike regte tydens arrestasie eksponensieël meer relevant geword. Die President se direktiewe móét doodeenvoudig tot ons almal se beswil toegepas word, en uit die aard van die saak gaan wetstoepassing en arrestasie hand aan hand. Tydens hierdie pandemie word ons vryheid van beweging drasties ingeperk. Alhoewel noodsaaklike beweging steeds toegelaat word, is die onderskeid tussen “noodsaaklike” en “nie-noodsaaklike” beweging nie in alle gevalle ewe duidelik nie. Daarom is dit ‘n werklikheid dat iemand wat u ken, of dalk uself, in hierdie uitdagende staat wel met arrestasie te doen kan kry. Ons het dit om die rede goedgedink om kortliks uit te brei rondom die reg op regsverteenwoordiging tydens arrestasie en aanhouding. U het immers ook die reg om van hierdie reg ingelig te word!
Die regte van gearresteerde, aangehoue en beskuldigde persone word in artikel 35 van die Grondwet verskans. Die relevante artikels wanneer die reg op regsverteenwoordiging ter sprake is, is artikel 35(2) en meer spesifiek sub-artikel (b) en (c), wat as volg lei en in die lig van artikel 35 in geheel gelees en verstaan moet word:
(2) Elkeen wat aangehou word, met inbegrip van elke gevonniste gevangene, het die reg–
(b) op ʼn regspraktisyn van eie keuse en om met daardie regspraktisyn te konsulteer, en om onverwyld van hierdie reg verwittig te word;
(c) om deur die staat op staatskoste van ʼn regspraktisyn voorsien te word indien dit andersins tot wesenlike onreg sou lei, en om onverwyld van hierdie reg verwittig te word.
Die reg op regsverteenwoordiging onderskryf twee baie belangrike regsbeginsels, naamlik die reg op ‘n billike verhoor en elkeen se gelykheid voor die reg. Die reg op ‘n billike verhoor is ‘n fundamentele beginsel van enige beskaafde samelewing. Dit word wyd erken dat daar ‘n nou verband tussen ‘n billike verhoor en regsverteenwoording bestaan – die een kan nie sonder die ander nie. Geen billike verhoor kan geskied, tensy ‘n individu toegelaat word om sy kant van die saak behoorlik te stel nie. Dit is dan juis om die rede dat behoorlike regsverteenwoordiging tydens arrestasie en aanhouding noodsaaklik is: ‘n saak moet op ‘n regtens effektiewe en relevante wyse met inagneming van alle terspraaklike beginsels van billikheid en regverdigheid voorgedra word – iets wat makliker gesê as gedaan is. Elkeen wat in aanhouding is word dus die reg op regsverteenwoordiging gegun om die reg op ‘n billike verhoor te verwesenlik.
Elkeen se gelykheid voor die reg is ‘n verdere fundamentele beginsel wat onlosmaaklik met die reg op regsverteenwoordiging gepaardgaan. Die reg poog egter nie om volmaakte gelykheid te bereik nie, aangesien dit net nie moontlik is nie. Byvoorbeeld sal die rykes onder ons altyd groter en beter regspanne kan bekostig as die armes. Wat die reg op regsverteenwoordiging wel poog om te doen is om niemand die genieting van hul regte en vryhede te ontsê bloot vanweë finansiële onvermoë nie. Om die gelyke genieting van alle regte en vryhede te verwesenlik is egter onmoontlik sonder behoorlike kennis van die betrokke regte en vryhede. Daarom verleen artikel 35(2)(c) ook aan aangehoue persone wat nie regsverteenwoordiging kan bekostig nie, die reg om op staatskoste van ‘n regspraktisyn voorsien te word.
Regsverteenwoordiging is dus noodsaaklik om ‘n billike verhoor te kan laat geskied en gelykheid voor die reg te kan bereik. Geen beskaafde samelewing kan bestaan sonder hierdie fundamentele beginsels nie. Daarom is dit veral in hierdie grendelstaat belangrik om ingelig te wees van u reg op regsverteenwoordiging en daarop aan te dring!