Covid-19 Inperking Litigasie

Covid-19 Inperking Litigasie

Terwyl Suid-Afrika sedert einde Maart 2020 onderworpe aan ‘n nasionale inperking was, het Hurter Spies Ing. gewoeker om namens verskeie kliënte hulle belange, regte en die breër publiek se vryheid te beskerm tydens die inperking.

Te midde van onsekere tye moet ons waak teen beperkings op regte en vryheid wat kort termyn beskerming teen die COVID-19 virus bied maar wat oor die lang termyn ‘n kommerwekkende inperking van grondwetlike regte behels. Nou dat die stof na die nasionale inperking begin lê gee Hurter Spies met trots terugvoer oor ‘n paar sake waarmee ons firma homself die afgelope vyf maande beywer het.

GEDWONGE KWARANTYN

Ons firma het namens AfriForum reeds aan die begin van die inperking ‘n hou teen die regering geslaan. Ons het namens ons kliënt ‘n bevel teen die regering gekry wat staatsamptenare verbied om mense wat positief toets vir COVID-19 te dwing om in staatsfasiliteite opgeneem te word. Die saak het ‘n belangrike presedent gestel om mense wat effektief en veilig tuis kan self-isoleer toe te laat om so te doen.

DEARSA #UNLOCKDOWN

In Mei 2020 Hurter Spies het namens die nie-winsgewende organisasie DearSA die drakoniese verbod op e-handel en buitelug oefening uitgedaag. Ons breedvoerige skrywe van 11 Mei 2020 het die Minister van Handel en Nywerheid aangemaan om teen 14 Mei 2020 die beperkings op te hef anders sou regstappe geneem word. Teen laatmiddag 14 Mei 2020 is nuwe regulasies aangekondig wat die verbod op e-handel en oefening opgehef het.

TOERISME NOODFONDS

Gedurende vlak 5 van die grendelstaat het Hurter Spies ‘n aansoek teen die Minister van Toerisme gedryf. Die Minister het aangekondig dat sy slegs bystand aan besighede wat aan BBEEE vereistes voldoen, uit die noodfonds sal verleen. AfriForum het versoek dat die Minister se besluit nie gebaseer moet word op grond van ‘n rasse-kriteria nie. Die fonds is daargestel om besighede by te staan en nie bedoel vir ‘n sekere kategorie van persone nie. Die is in die lig dat almal in die toerismebedryf tot op sy knieë geforseer is, deur die aankondiging van die grendelstaat.

ZITHABISENI (GROBLERSDAL) KWARANTYNKAMP

Tydens die nasionale inperking was Suid-Afrikaners wat van die buiteland af teruggekeer het Suid-Afrika toe verplig om twee weke in verpligte kwarantyn by staatsfasiliteite deur te bring, ongeag of hul negatief getoets het vir COVID-19. ‘n Groep van 107 burgers was aangehou by die haglike Zithabiseni kwarantynkamp (naby Groblersdal, Mpumalanga) nadat hulle van vakansie af in Mosambiek terug na die land toe gekom het. Met die hulp van AfriForum het ons namens die groep dringende regshulp van ons howe versoek en het die hof beveel dat die Suid-Afrikaners onmiddellik vrygelaat moet word en dat die kwarantynkamp nie geskik is vir menslike gebruik nie.

KLEUTERSKOLE

Te midde van die nasionale inperking het onsekerheid geheers oor die heropening van kleuterskole. Talle privaat kleuterskole, dagsorgsentrums en speelgroepe was in die duister weens die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling se versuim om enige aankondigings te maak oor wanneer kleuterskole mag heropen. Hurter Spies het namens die Skole-ondersteuningsentrum en ‘n groepe kleuterskole die hof op ‘n dringende basis genader om kleuterskole te heropen. Op 6 Julie 2020 het ons uitspraak gekry en het die hof bevestig dat kleuterskole mag heropen.

HEROPENING VAN SKOLE

Die firma het namens Solidariteit twee suksesvolle aansoeke as amicus curiae gebring in aangeleenthede wat gehandel het oor die heropening van skole tydens die nasionale inperking. In die week van 8 – 12 Junie 2020 het Solidariteit as vriend van die hof toegetree in die saak van Educators Union of South Africa v Minister of Basic Education (23533/2020) en ten sterkste en suksesvol vir die heropening van skole geargumenteer het. Kort daarna was Solidariteit weer in die hof, die keer in die saak van One South Africa Movement v President of the Republic of South Africa & 3 Others toe mnr Mmusi Maimane skole weer wou sluit nadat hulle heropen het. In beide aangeleenthede het Solidariteit se submissies ‘n deurslaggewende rol gespeel in die sukses van die saak.  

KRUGERSDORP KOSPAKKIES

Ons kliënt, The Cradle of Hope, is ‘n bekende welsynsorganisasie gebaseer in die Wesrand. Hulle deel vir die afgelope 12 jaar grondboontjiebotter en konfyt toebroodjies aan behoeftige persone uit. Hurter Spies het hulle bygestaan met ‘n dringende aansoek nadat die plaaslike kantoor van Maatskaplike Ontwikkeling hulle op terme geplaas het om die projek te kniehalter. Die besluit was gebaseer op ‘n riglyn nl “Food Distrubution Guideline ‘Distribution Of Food Parcels By Donors Directly To Community’” wat deur die departement van Maatskaplike Ontwikkeling gepubliseer was. Die riglyne het bepaal dat kospakkies eers deur die departement goedgekeur word, voor dit versprei mag word. Ons was suksesvol en die departement het die riglyne teruggetrek.

VERPLIGTE KWARANTYN VIR GEREPATRIEERDE BURGERS

Danksy volgehoue druk deur litigasie wat Hurter Spies namens AfriForum gevoer het, het die staat uiteindelik sy kwarantyn vereistes vir terugkerende Suid-Afrikaners uit die buiteland gewysig om verpligte kwarantyn vir terugkerendes uit te faseer.

UITVOER VAN EKSOTIESE VOËLS

Hurter Spies het namens die landbou organisasie Saai en ‘n groot uitvoerder van papegaaie die hof genader oor die verbod op uitvoer van eksotiese voëls. Op 28 Mei 2020 het die applikante met hul aansoek geslaag en kon die sektor weer voortgaan om hul produkte oorsee uit te voer.

VERBOD OP TABAKVERKOPE

Dit is wyd bekend dat daar ‘n verbod op die verkoop van sigarette geplaas is deur die regering. Een van die uitkringende gevolge van die verbod het veroorsaak dat tabakboere nie kon handeldryf nie. Ons kliënt Saai, ‘n landbou organisasie, het geleentheid gesien om toe te tree as mede applikant by die BATSA saak (British American Tabacco South Afirca). In die aansoek het ons kliënt bewyse voor die hof geplaas oor die finansiële impak die verbod vir takbakboere inhou asook die beplanning rondom die volgende plant seisoen. Die aangeleentheid is 7 & 8 Augustus aangehoor. Uitpraak is nog voorbehou, maar intussen is die verbod opgehef.

VERBOD OP WYNVERKOPE

Die landbou organisasie Saai het namens verskeie wynplase en wynorganisasies ‘n dringende aansoek geloods om die verbod op wynverkope gedurende die nasionale inperking op te hef. Die aansoek sou 24 Augustus 2020 voor ‘n volbank regters aangehoor word toe die regering kort voor die hofdatum die verbod op alkoholverkope omgedraai het. Druk van verskeie organisasies het gelei tot die uiteindelike opheffing van die nasionale inperking wat rampspoedige gevolge vir die land veroorsaak het.

UITBETALING VAN NOODFONDS AAN LANDBOUSEKTOR

Die landbou organisasie Saai het Hurter Spies genader om ‘n skrywe aan die minister van landbou grondhervorming en landelike ontwikkeling te rig om navraag te doen namens verskeie boere wat aansoek gedoen het vir die noodfonds, maar geen uitbetaling of teruvoer ontvang het nie. Die minister het positief gereageer op ons skrywe, dat hulle aandag sal gee en kort daarna boere het uitbetalings ontvang.

VERBOD OP DIERE VEILINGS

Die landbou organisasie Saai het Hurter Spies genader om ‘n skrywe aan die minister van landbou grondhervorming en landelike ontwikkeling en aan die Minister van Polisie na aanleiding van ‘n veiling wat ontwrig was. Die verbod het die voorsieningsketting van vleis ontwrig. Die minister het positief gereageer op ons skrywe en veiligs het ongehinderd voortgegaan.

VERSEKERINGSEISE WEENS VERLIES AAN INKOMSTE

Met die bystand van AfriForum het Hurter Spies namens verskeie maatskappye, insluitende restaurante en gastehuise, eise ingedien by hulle onderskeie versekeraars vir dekking vir die verlies aan inkomste wat hul gely het gedurende die Covid-19 inperking.

SUID-AFRIKANERS WAT OORSEE WOU REIS

Ons firma het namens nege verskillende families aansoek gedoen en gedreig met regsaksie om die Departement van Binnelandse Sake te verplig op Suid-Afrikaners wat in die buiteland woon en werk toe te laat om die land te verlaat gedurende die inperking. Danksy die volgehoue druk het die Departement direktiewe uitgereik wat hierdie gesinne toegelaat het om terug na hul oorsese tuistes te keer.

ONREGMATIGE ARRESTASIES

Sedert die verskuiwing na vlak 2 van inperking het Hurter Spies namens verskeie kliënte, wat deur AfriForum bygestaan word, dagvaarding uitgereik vir hul onregmatige arrestasies vir beweerde oortredings van inperkingregulasies. Talle lede van die publiek is onregmatige deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens gearresteer vir beweerde oortredings. Hierdie individue eis by die polisie vir onregmatige arrestasie en die onbillike inperking op hul vryheid.