Inleiding
In die Suid-Afrikaanse reg bestaan daar hoofsaaklik twee soorte onderhoudsbevele wat uitgereik kan word. Eerstens die vir minderjarige/afhanklike kinders en tweedens gades (spousal maintenance). Onderhoud wat betaalbaar is ten opsigte van minderjariges word in die Kinderwet (Wet 38 van 2005) uiteengesit. Biologiese ouers word ingevolge die laasgenoemde wetgewing verplig om hul kinders te onderhou. Die onderhoudsverligting van biologiese ouers soos in die Kinderwet uiteengesit, vereis gevolglik nie dat ‘n onderhoudsbevel in plek gestel word om daardie verpligting af te dwing nie.
Onderhoud betaalbaar ten opsigte van gades geskied kragtens ‘n onderhoudsbevel wat deur ‘n toepaslike hof uitgereik mag word wanneer gades van mekaar skei, indien een of die ander gade dit versoek. Artikel 7 van die Egskeidingswet (Wet 70 van 1979) reguleer die verdeling van bates en onderhoud van partye tydens die die toestaan van ‘n finale egskeidingsbevel.
Intressante feit: Indien ‘n bevel vir onderhoud ten opsigte van ‘n gade nie tydens ‘n egskeidingsbevel gemaak word nie, verbeur die gades hul reg tot onderhoud en kan daar nooit weer vir huishoudelike onderhoud aansoek gedoen word nie.
Die Wet op Onderhoud 99 van 1998
Indien enige persoon wat regtens aanspreeklik is om ‘n ander te onderhou (soos op enige een van die twee wyses hierbo uiteengesit), nie sy/haar aanspreeklikheid nakom nie, kan die persoon aan wie die onderhoud verskuldig is ‘n klagte kragtens Artikel 6 van die Wet op Onderhoud by die Onderhoudshof lê.
Enersyds, kan Artikel 6 van die Wet op Onderhoud, saamgelees met Artikel 8 van die Egskeidingswet ook gebruik word deur die persoon wat die onderhoudsverpligting het, om ‘n klagte te lê waar daar goeie gronde bestaan vir die vervanging, wysiging of opheffing van die onderhoudsbevel.
Goeie gronde beteken dat daar voldoende redes bestaan waarom ‘n bevel vervang, gewysig of opgehef moet word. ‘n Verandering in omstandighede wat plaasgevind het sedert die datum van die bevel totdat ‘n beweerde onbillikheid sou ontstaan wat verhoed dat die bevel in sy oorspronklike vorm uitgevoer kan word, sal deur die hof as ‘n voldoende rede en goeie gronde vir die wysiging van ‘n bevel aanvaar word (Roos v Roos 1945 TPD).
‘n Klagte kragtens Artikel 6 van die Wet op Onderhoud moet in die voorgeskrewe vorm by die Onderhoudshof ingedien word (Form B (J107E)). Die onderhoudsbeampte sal die klagte ondersoek waarna hy/sy kragtes Artikel 6 ‘n navraag by die Onderhoudshof mag indien. Die doel van die navraag is om ondersoek in te stel oor die voorsiening van onderhoud ten opsigte van die persoon wat onderhou moet word.
Die ondesoekbeampte kan moontlik vereis dat die partye op ‘n spesifieke datum voor die Landdros vir ‘n ondersoek in die Onderhoudshof moet verskyn. Verskeie dokumentêre bewysstukke sal moontlik by die hof ingedien moet word om byvoorbeeld te bewys wat ‘n persoon se onderhoudsbehoefte is en/of om aan te dui wat die finansiële vermoë is van die persoon wat onderhoudsaanspreeklik is.
Na oorweging van die getuienis en al die relevante faktore wat by die ondersoek van die saak voorgelê is, sal die Landdros, waar daar reeds ‘n bestaande onderhoudsbevel is;
(a) ‘n onderhoudsbevel maak wat die huidige bevel vevang; of
(b) die huidige bevel ophef.
(Artikel 16(1)(b)(i) –(ii) van die Wet op Onderhoud 99 van 1998)
Wysiging deur ooreenkoms
Artikel 17 van die Wet op Onderhoud maak voorsiening vir die vervanging, wysiging of opheffing van ‘n onderhoudsbevel by wyse van die vooraf skriftelike toestemming van ‘n betrokke partye tot die aangeleentheid. Hierdie proses kan onderneem word sonder dat laasgenoemde party fisies by die hof teenwoordig hoef te wees. Die skriftelike toestemming van sodanige party sal deur die onderhoudsbeampte tydens die navraag by die hof ingedien word. Die Wet bepaal dat ‘n kopie van die bevel deur die onderhoudsbeampte, ‘n polisiebeampte of die balju op die party teen wie die bevel gemaak is beteken word en sal geag ‘n voldoende bewys te wees van die feit dat hy of sy bewus was van die bepalings van die bevel.
Familiereg verg besonderse kennis en vaardighede van regspraktisyns aangesien daar na die persoonlike belange van individue omgesien moet word. Hurter Spies Ing. is besonders passievol oor hierdie afdeling van die reg en wil u graag help indien u meer wil uitvind oor u reg tot onderhoud of bystand nodig het in enige ander familiereg aangeleentheid.