---
title: "Reg tot privaatheid op sosiale media"
url: https://hurterspies.co.za/reg-tot-privaatheid-op-sosiale-netwerke/
type: post
date: 2020-03-03
modified: 2024-01-12
markdown_url: https://hurterspies.co.za/reg-tot-privaatheid-op-sosiale-netwerke.md
author: "Danielle du Plessis"
---

# Reg tot privaatheid op sosiale media

Individue se reg tot privaatheid word beskerm kragtens Artikel
14 van die Grondwet *(Die Grondwet van Suid- Afrika, 1996*) en sluit onder
andere die volgende regte in: 

*Elkeen het die reg op privaatheid,
waarby inbegrepe is die reg dat– *

*(a) hul persoon of woning nie deursoek
word nie; *

*(b) hul eiendom nie deursoek word nie;
*

*(c) daar nie op hul besittings beslag
gelê word nie; of *

*(d) daar nie op die privaatheid van
hul kommunikasies inbreuk gemaak word nie *

# BEPERKING VAN DIE REG TOT
PRIVAATHEID.

Artikel 36 van die Grondwet maak voorsiening vir
die beperking van enige reg vervat in die Handves van Regte *(Hoofstuk 2 van
die Grondwet van Suid-Afrika, 1996) *tot die mate wat so ‘n beperking in ‘n
oop en demokratiese samelewing wat gebasseer is op menswaardigheid, gelykheid
en vryheid, redelik en regverdigbaar is. 

Individue wat hulself blootstel aan sosiale media
platforms geniet nie absolute beskerming van hul reg tot privaatheid nie. Die
publieke aard van sosiale netwerke kan lei tot die regverdige en regmatige
beperking van die reg op privaatheid. Individue moet daarom versigtig wees
wanneer hulle die sosiale media omgewing betree en nooit aanneem dat hul
optrede of aktiwiteite privaat is nie. 

# DIE WET OP DIE BESKERMING VAN PERSOONLIKE INLIGTING

‘n Verskeidenheid wette insluitende die Wet op Nasionale
Gesondheid *(National Health Act 61 of 2013)*, die Nasionale Kredietwet *(National
Credit Act 34 of 2005)*, die Verbruikers Beskermingswet *(Consumer
Protection Act 68 of 2008)*, die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies
*(Electronic Communications and Transactions Act 25 of 2002) *en Die Wet
op die Bevordering van Toegang tot Inligting *(Promotion of Access to
Information Act 2 of 2000)*, reguleer inligting wat vanaf privaat individue
verkry word en verplig staatsorgane en enige ander partye om persoonlike
inligting te beskerm. 

Dit is alombeken dat individue se persoonlike inligting
en aktiwiteite op etlike internet en sosiale media platforms versamel, analiseer
en verwerk word vir bemarkings- en verskeie ander doeleindes. Dit sal moeilik
wees om te bewys dat die bogenoemde individue se reg tot privaatheid skend,
inaggenome die feit dat verbruikers dikwels sonder om die implikasie daarvan te
besef toestemming verleen dat hul inligting versamel en gebruik mag word.

Die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting *(Protection
of Personal Information Act 4 of 2013) *is deur die wetgewer gepromulgeer
met die doel om individue se persoonlike inligting te beskerm deur die
versameling en gebruik van genoemde inligting te reguleer. Die oogmerk van die
bogenoemde Wet is om skade wat vir individue uit die gebruik van sodanige
inligting sou ontstaan, te voorkom. 

Die Wet reguleer eerstens die wyse waarop persoonlike
inligting van individue versamel mag word, tweedens die omstandighede waaronder
dit wettig of regmatig sal wees vir ‘n persoon of organisasie om die
persoonlike inligting van ‘n ander te verwerk en derdens waarvoor die verwerkte
inligting gebruik mag word. 

Die Wet op Beskerming van Persoonlike Inligting is ‘n
wetsontwerp wat goedekeur is deur die President maar wat huidiglik nog nie in
werking getree het nie. Die hoop is egter dat wanneer hierdie Wet wel in
werking tree daar beter beskerming vir die individu sal wees. Intussen moet
individue daarop bedag wees dat daar wel maatreëls is vir beskermimg teen die
onregmatige versameling en gebruik van persoonlike inligting.

# WENKE TER BESKERMING VAN PERSOONLIKE INLIGTING

- Sosiale media verbruikers moet op hoogte bly van die
nuutste verwikkelinge en wetgewing om sodoende ten alle tye van hul regte bewus
te wees;
- Alle meganismes wat wel tot die individu se beskikking is
om sy/haar persoonlike inligting te beskerm moet ten volle benut word. (Om bv te kies dat jou
Facebook/Twitter/Instagram ens. profiel op “privaat” is)
- Maak seker dat jy ten alle tye bewus is van internet veiligheid.
- Sodra daar vermoed word dat persone se reg tot
privaatheid wel op ‘n onregmatig wyse geskend word, moet stappe dadelik geneem
word om ernstige skade te vermy.  

Danielle du Plessis - Kandidaatprokureur

*BCom Law LLB (UP)*
