---
title: "Huurverhogings 101"
url: https://hurterspies.co.za/huurverhogings-101/
type: post
date: 2020-04-02
modified: 2024-01-12
markdown_url: https://hurterspies.co.za/huurverhogings-101.md
author: "Wian Spies"
---

# Huurverhogings 101

Net soos die meeste
dinge in die samelewing styg huur ook jaarliks om met stygende kostes by te hou.
Om hierdie rede is dit belangrik om te weet wat die “moets en die moet nies”
van huurverhogings is sodat uitbuiting en onbillike verhogings vroegtydig in
die wiele gery kan word. 

### Hoe kom dié verhogings tot stand:

Die basis van die
huurverhogingskwessie begin natuurlik met die huurkontrak. Dit is ‘n ooreenkoms
tussen huurder en verhuurder wat basiese bepalings van die huur daarstel. In
hierdie kontrak sal inligting oor die huurbedrag, huurverhogings en kennistydperke
te vind  wees. Indien jy ‘n geskrewe
huurkontrak ontvang is dit van kardinale belang om deeglik te kyk watter
bepalings moontlik onbillik geag kan word. Wanneer daar geteken word is die
partye wettig verplig om te voldoen aan alle bepalings soos gestipuleer in die
kontrak. Die huurtribunaal is ‘n liggaam wat onbillike en onwettige bepalings van
‘n kontrak wat teen die openbare belang (*boni mores*) is, tersyde kan
stel. 

Kragtens artikel
5(2) van die *Rental Housing Act* rus daar ‘n verpligting op die
verhuurder om ‘n skriftelike kontrak beskikbaar te stel indien ‘n huurder dit
sou versoek. 

Alhoewel
huurverhogings in ‘n kontrak vervat kan word is daar altyd beweegruimte vir
huurders om oor hierdie koers te onderhandel. 

Die verhuurder het
die reg om huur gedurende die loop van die jaar te verhoog indien die
huurkontrak ‘n jaarlikse verhogingskoers bevat. Daar moet wel twee maande voor
die verhoging aan die huurder kennis gegee van die voorneme.

### Wanneer word ‘n huurverhoging as onbillik geag:

Baie mense glo dat
die verhoging nie meer as 10% mag wees nie óf dat dit altyd inlyn met inflasie
moet wees. Die bogenoemde bepalings word egter nêrens regtens gesteun nie. Inderwaarheid
verskil die verhogings van een saak na ‘n ander. 

Die Wet op
Verbruikersbeskerming verhoed dat ‘n huurkontrak buite die reg opgestel word,
die implikasie hiervan is dat dit nou weer verhuurders dwing om met huurders te
onderhandel oor die nuwe verhogings persentasie. 

### Die uitdaag van huurverhogings:

Artikel 13(9) van
die ‘Rental Housing Act’ magtig die provinsiale huurbehuisingstribunale om
ekslusief besluite oor onbillike praktyk in terme van huurkontrakte en die
beëindiging daarvan te maak. 

Waar iemand snuf in
die neus kry oor ‘n onregverdige huurverhoging, kan die tribunaal vervolgens genader
word. Tydens die uitdaging hoef die verhoogde huurbedrag nie betaal te word deur
die huurder nie, maar indien die aansoek misluk sal alle agterstallige
betalings teen die nuwe koers betaalbaar wees. 

Huurders moet egter in ag neem dat die huurtribunaal elke geval op meriete hanteer. Die gedrags- en betalingsrekord van die huurder sal derhalwe ook in ag geneem kan word. 

Kontak Hurter Spies
Ing. vandag oor enige regsvraag rakende huurverhogings.

### Tersaaklike regspraak:

In die saak van *Maphango and others v Aengus Lifestyle* *Properties*  het die Konstitusionele Hof bevind dat die
beëindiging van ‘n huurkontrak, met die doel om huurverhogings af te dwing, onbillike
praktyk daarstel. In hierdie saak het die verhuurder die huurkontrakte summier beëindig
en dan nuwe huurkontrakte beskikbaar gestel aan die huurders wat ‘n drastiese
huurverhoging behels. 

#### Bronnelys:

##### Artikels:

- A Tenant’s Guide to Rental Housing (2013), Social
Economic Rights Institute of South Africa beskikbaar op [https://www.wits.ac.za/media/wits-university/faculties-and-schools/-engineering-and-the-built-environment/research-entities/cubes/documents/A%20Tenants%20Guide%20to%20Rental%20Housing.pdf](https://www.wits.ac.za/media/wits-university/faculties-and-schools/-engineering-and-the-built-environment/research-entities/cubes/documents/A%20Tenants%20Guide%20to%20Rental%20Housing.pdf)

- Rental Tribunals and its ‘problematic’ clauses (2019), Dr
Sayed Iqbal Mohamed beskikbaar op [https://www.iol.co.za/dailynews/consumer/rental-tribunals-and-its-problematic-clauses-28923709](https://www.iol.co.za/dailynews/consumer/rental-tribunals-and-its-problematic-clauses-28923709)

##### Tersaaklike
Wetgewing:

- Rental Housing Act 50 of 1999 beskikbaar op [http://www.acts.co.za/rental-housing-act-1999/](http://www.acts.co.za/rental-housing-act-1999/)

- Rental Housing Amendment Act 35 of 2014 beskikbaar op [https://www.gov.za/documents/rental-housing-amendment-act-0](https://www.gov.za/documents/rental-housing-amendment-act-0)

- Wet op Verbruikersbeskerming beskikbaar op [http://vra.co.za/wp-content/uploads/2016/10/WET-OP-VERBRUIKERSBESKERMING-No-68-van-2008-Afr.pdf](http://vra.co.za/wp-content/uploads/2016/10/WET-OP-VERBRUIKERSBESKERMING-No-68-van-2008-Afr.pdf)

##### Regspraak:

- Maphango and Others v Aengus Lifestyle Properties (Pty)
Ltd (CCT57/11) (CC) [2012] ZACC 2; 2012 (3) SA 531 (CC); 2012 (5) BCLR 449 (CC)
