---
title: "Die Reg Op Regsverteenwoordiging Tydens Arrestasie"
url: https://hurterspies.co.za/die-reg-op-regsverteenwoordiging-tydens-arrestasie/
type: post
date: 2020-03-27
modified: 2024-01-12
markdown_url: https://hurterspies.co.za/die-reg-op-regsverteenwoordiging-tydens-arrestasie.md
author: "Johann Venter"
---

# Die Reg Op Regsverteenwoordiging Tydens Arrestasie

Te midde van ‘n nasionale grendelstaat deur internasionale
pandemie van Covid-19 en die skryf van hierdie artikel, het ons almal se
grondwetlike regte tydens arrestasie eksponensieël meer relevant geword. Die
President se direktiewe móét doodeenvoudig tot ons almal se beswil toegepas
word, en uit die aard van die saak gaan wetstoepassing en arrestasie hand aan
hand. Tydens hierdie pandemie word ons vryheid van beweging drasties ingeperk. Alhoewel
noodsaaklike beweging steeds toegelaat word, is die onderskeid tussen
“noodsaaklike” en “nie-noodsaaklike” beweging nie in alle gevalle ewe duidelik
nie. Daarom is dit ‘n werklikheid dat iemand wat u ken, of dalk uself, in
hierdie uitdagende staat wel met arrestasie te doen kan kry. Ons het dit om die
rede goedgedink om kortliks uit te brei rondom die reg op regsverteenwoordiging
tydens arrestasie en aanhouding. U het immers ook die reg om van hierdie reg
ingelig te word!

Die regte van gearresteerde, aangehoue en beskuldigde
persone word in artikel 35 van die Grondwet verskans. Die relevante artikels
wanneer die reg op regsverteenwoordiging ter sprake is, is artikel 35(2) en
meer spesifiek sub-artikel (b) en (c), wat as volg lei en in die lig van
artikel 35 in geheel gelees en verstaan moet word: 

(2)       Elkeen wat aangehou word, met inbegrip van
elke gevonniste gevangene,            het
die reg–

(b)       op ŉ regspraktisyn van eie keuse en om met
daardie regspraktisyn te         konsulteer,
en om onverwyld van hierdie reg verwittig te word;                   

(c)       om deur
die staat op staatskoste van ŉ regspraktisyn voorsien te word indien       dit andersins tot wesenlike onreg sou lei,
en om onverwyld van hierdie reg      verwittig
te word.

Die reg op regsverteenwoordiging onderskryf twee baie
belangrike regsbeginsels, naamlik die reg op ‘n billike verhoor en elkeen se gelykheid
voor die reg. Die reg op ‘n billike verhoor is ‘n fundamentele beginsel van
enige beskaafde samelewing. Dit word wyd erken dat daar ‘n nou verband tussen
‘n billike verhoor en regsverteenwoording bestaan – die een kan nie sonder die
ander nie. Geen billike verhoor kan geskied, tensy ‘n individu toegelaat word
om sy kant van die saak behoorlik te stel nie. Dit is dan juis om die rede dat
behoorlike regsverteenwoordiging tydens arrestasie en aanhouding noodsaaklik is:
‘n saak moet op ‘n regtens effektiewe en relevante wyse met inagneming van alle
terspraaklike beginsels van billikheid en regverdigheid voorgedra word – iets
wat makliker gesê as gedaan is. Elkeen wat in aanhouding is word dus die reg op
regsverteenwoordiging gegun om die reg op ‘n billike verhoor te verwesenlik.

Elkeen se gelykheid voor die reg is ‘n verdere
fundamentele beginsel wat onlosmaaklik met die reg op regsverteenwoordiging
gepaardgaan. Die reg poog egter nie om volmaakte gelykheid te bereik nie,
aangesien dit net nie moontlik is nie. Byvoorbeeld sal die rykes onder ons
altyd groter en beter regspanne kan bekostig as die armes. Wat die reg op
regsverteenwoordiging wel poog om te doen is om niemand die genieting van hul
regte en vryhede te ontsê bloot vanweë finansiële onvermoë nie. Om die gelyke
genieting van alle regte en vryhede te verwesenlik is egter onmoontlik sonder
behoorlike kennis van die betrokke regte en vryhede. Daarom verleen artikel
35(2)(c) ook aan aangehoue persone wat nie regsverteenwoordiging kan bekostig
nie, die reg om op staatskoste van ‘n regspraktisyn voorsien te word. 

Regsverteenwoordiging is dus noodsaaklik om ‘n billike
verhoor te kan laat geskied en gelykheid voor die reg te kan bereik. Geen
beskaafde samelewing kan bestaan sonder hierdie fundamentele beginsels nie.
Daarom is dit veral in hierdie grendelstaat belangrik om ingelig te wees van u
reg op regsverteenwoordiging en daarop aan te dring!
