Vrywillige sekwestrasie van individue

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn

Die inperkingstydperk wat ons tans in Suid-Afrika beleef dwing individue om aan te pas by omstandihede wat baie vinnig en drasties verander. Wat egter onveranderd gebly het gedurende hierdie tydperk is die groei van inflasie en toename in skuld. Individue se inkomste en die beskikbaarheid van werksgeleenthede verminder oor die algemeen weens die COVID-19 pandemie. Dit het egter die teenoorgestelde effek op die hoeveelheid individue wat moet geld leen om hul maandelikse verpligtinge na te kom en gevolglik skuld maak. 

Alhoewel ‘n oormate van insolvente boedels ‘n algemene bekommernis in Suid-Afrika is, het die inperkingstydperk ‘n direkte effek op die hoeveelheid persone wat nou in ‘n posisie is waar hul laste hul bates oorskry. Wanneer ‘n persoon se laste hul bates oorskry word hy/sy as insolvent geklassifiseer. Vrywillige sekwestrasie is onder andere ‘n oplossing wat oorweeg kan word deur individue wat nie die vermoë het om hul skuld te delg nie.  

Interessante feit: Die gebruik van die terme sekwestrasie en likwidasie skep dikwels verwarring aangesien die woorde min of meer dieselfde beteken maar in twee verskillende situasies gebruik sal word. Sekwestrasie is die term wat gebruik word wanneer ‘n individue, trust of vennootskap insolvent verklaar is en van sy bates ontneem word om sy skuld te delg. Likwidasie aan die ander kant is die term wat gebruik word wanneer ‘n regspersoon, gewoonlik ‘n maatskappy of beslote korporasie insolvent verklaar word en die genoemde proses ondergaan namate die skuld van die maatskappy te delg.  

Die sekwestrasieproses word gereël kragtes die Insolvensiewet 24 van 1936. Dit geskied by wyse van ‘n ex-parte aansoek om sekwestrasie in die vorm van ‘n kennisgewing van mosie tesame met ‘n funderende verklaring wat die redes vir die betrokke aansoek uiteensit. Die hof sal dienooreenkomstig ‘n sekwestrasiebevel uitreik indien die hof tevrede is dat die applikant aan alle formele vereistes voldoen het.

‘n Sekwestrasiebevel kan op twee wyses bekom word. Eerstens deur middel van gedwonge sekwestrasie wat beteken dat die skuldeiser of skuldeisers ingevolge Artikel 9 van die Insolvensiewet aansoek doen om sekwestrasie van die skuldenaar se boedel. Tweedens kan die skuldenaar self die hof nader by wyse ‘n versoek (in die vorm van ‘n ex-parte aansoek soos hierbo genoem)  vir  vrywillige boedeloorgawe kragtens Artikel 3 van die Insolvensiewet.

PROSES VAN VRYWILLIGE BOEDELOORGAWE

‘n Konsep vermoënstaat word opgestel waarin die skuldenaar se bates en laste uiteengesit word. Nadat die kennisgewing van mosie opgestel is, die funderende verklaring deur die applikant geteken is en beëdiging deur ‘n kommissaris van ede gedoen is, sal die aansoek by die hof uitgereik word, waarna ‘n hofdatum geallokeer sal word.

In die geval van vrywillige boedeloorgawe moet die skuldenaar ‘n kennisgewing van boedeloorgawe in die Staatskoerant en nuusblad wat verskyn in die distrik waar die skuldenaar woonagtig is, publiseer. Die kennisgewing moet in die voorgeskrewe formaat wees en moet meer as 14 (veertien) en minder as 30 (dertig) dae voor die datum van die aansoek gepubliseer word. Die voorgeskrewe formaat van die genoemde kennisgewing is Vorm A van die Eerste bylaag van die Insolvensiewet.

Kragtens Artikel 4(2) van die Insolvensiewet moet die skuldenaar ‘n afskrif van die kennisgewing binne 7 (sewe) dae vanaf die publikasie, by wyse van gesregistreerde pos aan elkeen van sy skuldeisers, ‘n geregistreerde vakbond wat enige van die werknemers van die skuldenaar verteenwoordig (indien van toepassing) en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens gestuur word. Verder moet twee afskrifte van ‘n vermoënstaat in die voorgeskrewe vorm (Vorm B van die Eerste Bylaag) by die Meester van die Hooggeregshof se kantoor ingedien word. Indien daar geen meesterskantoor in die distrik is waar die skuldenaar woon of sy besigheid bedryf nie, moet ‘n kopië van die vermoënstaat by die landdroskantoor ingedien word.

Na afloop van die publikasie in die Staatskoerant word die verkoop van eiendom in eksekusie opgeskort. Die Meester kan ook na ontvangs van die kennisgewing ‘n curator bonis oor die boedel van die skuldenaar aanstel, alhoewel die Meester nie verplig is om dit te doen nie. ‘n Curator bonis is ‘n persoon wat aangestel word om die boedel van ‘n persoon wat onbevoeg verklaar is om sy/haar eie sake te bestuur, te administreer.

Die hof sal ‘n sekwestrasiebevel toestaan indien aangetoon kan word dat die prosedure en formele vereistes soos hierbo uiteengesit aan voldoen is, asook dat die skuldenaar se boedel feitelik insolvent is. Die applikant moet verder kan aantoon dat daar genoegsame bates in die vrye oorskot is om die sekwestrasiekostes te betaal. Die hof moet oortuig wees dat sekwestrasie die gepaste remedie is in teenstelling met die remedies beskikbaar in die Nasionale Kredietwet. Laastens sal die bevel slegs toegestaan word indien die sekwestrasie van die boedel tot voordeel van die skuldeisers sal wees.

‘n Kennisgewing van sekwestrasie moet dienooreenkomstig kragtens Artikel 17 van die Insolvensiewet deur die registrateur van die hof aan sekere amptenare voorsien word. Hierdie amptenare sluit die Meester, die Adjunk-balju van die distrik waarin die skuldenaar woon of sy besigheid bedryf, enige balju wat in besit is van eiendom wat aan die insolvente boedel behoort en elke amptenaar belas met die administrasie van titels oor onroerende bates (Aktekantoor) in.

DIE GEVOLGE VAN SEKWESTRASIE

Alle roerende en onroerende bates, behalwe sekere bates wat spesifiek uitgesluit is soos bv klere, beddegoed, en die pensioenfonds van die skuldenaar, word verkoop. Die opbrengste word tussen die skuldeisers verdeel om die skuld van die skuldenaar te delg. Enige bates wat verkry is voor sekwestrasie asook alle bates verkry na sekwestrasie totdat die skuldenaar gerehabiliteer is, vorm deel van die insolvente boedel. Die insolvente boedel van die skuldenaar word oorgehandig aan die Meester van die Hooggeregshof en by aanstelling van ‘n voorlopige kurator wat sekuriteit moet stel. Die insolvente boedel bly in die beheer van die kurator totdat dit weer aan die insolvent oorgedra word wanneer hy/sy gerehabiliteer is of waar daar ‘n ooreenkoms met skuldeisers bereik is.

Enige siviele verrigtinge wat deur of teen die insolvente persoon ingestel word, word gestaak totdat ‘n kurator aangestel is. Sò word die uitvoering van ‘n hofbevel by wyse van ‘n lasbrief vir eksekusie teen die skuldenaar ook gestaak, die oomblik wat die balju ‘n kennisgewing van sekwestrasie ontvang. Indien die sekwestrasiebevel egter tersyde gestel word, sal die proses ter uitvoering van die hofbevel weer voortgesit word.

Die sekwestrasie van ‘n insolvente persoon het ook sekere gevolge ten opsigte van sy handelingsbevoegdheid. ‘n Insolvente persoon mag onder andere, nie ‘n besigheid bedryf, in enige hoedanigheid as bv ‘n direkteur van ‘n maatskappy of beslote korporasie aangestel word of ‘n direkte of indirekte belang by ‘n besigheid hê, sonder die skriftelike toestemming van die kurator van die boedel nie. Wanneer die insolvent ‘n kontrak wil sluit gedurende die sekwestrasie tydperk word die skriftelike toestemming van die kurator ook vereis.

Sekwestrasie het laastens ‘n effek op die insolvent se eggenoot. Indien daar ‘n bestaande huwelik binne gemeenskap van goedere is, is daar hoofsaaklik net een gemeenskaplike boedel. Albei gades sal dus die status van insolvent kry en die gemeenskaplike boedel sal gevolglik gesekwestreer word. As daar ‘n huwelik buite gemeenskap van goedere (met of sonder die aanwasbedeling) bestaan, plaas Artikel 21 die bewyslas op die solvente eggenoot om te bewys dat alle goedere in sy / haar boedel inderdaad sy / haar eiendom is, en daarom uitgesluit moet word van die boedel van die insolvent.

REHABILITASIE VAN ‘N INSOLVENT

Rehabilitasie beteken dat die persoon van sy voor-sekwestrasie skulde verlos is en die geleentheid gegun word om sonder enige skuld oor te begin. ‘n Insolvente persoon word outomaties geag ‘n gerehabiliteerde insolvent te wees na die verstryking van ‘n 10 (tien) jaar periode vanaf datum van sekwetrasie. Die skuldenaar kan egter in terme van Artikel 127A van die Insolvensiewet voor die verstryking van die 10 (tien) jaar periode die hof nader om ‘n bevel vir rehabilitasie. Die genoemde aansoek is natuurlik onderhewig aan sekere substantiewe en formele vereistes.

Die sekwestrasieproses en die gevolge wat daarmee gepaard gaan is verreikend en dikwels baie gekompliseerd. Ons advies is dat enige persoon wat dit oorweeg om sy boedel vrywillige te sekwestreer of gedwonge sekwestrasie in die gesig staar, hul prokureur kontak vir bystand en behoorlike regsadvies gedurende hierdie proses.

Nog artikels

Wat is Skuldberading?

Deur Jacque H Degenaar In die seldsame tye waarin ons leef vandag is almal onder groot finansiele druk. Almal soek na maniere

Hoe eis mens by die Padongelukkefonds?

Die Padongelukkefonds is ‘n statutêre liggaam wat deur die wet ingestel is om die stelsel van skadevergoeding te administreer vir skade wat