Hurter Spies Ingelyf is op 1 April 2008 gestig toe Willie Spies (wat op daardie stadium ‘n parlementslid was) en Johan Hurter (wat tot op daardie stadium die senior vennoot in die bekende firma Van Zyl Le Roux en Hurter was) besluit het om ‘n nuwe regsfirma in Pretoria te stig.
Die firma het vinnig naam gemaak met ‘n suksesvolle aansoek na die Noord Gauteng Hooggeregshof sowel as die Konstitusionele Hof in Februarie 2009 om te verseker dat Suid-Afrikaners wat uitgewyk het na die buiteland met behoud van hulle burgerskap, steeds kan stem in nasionale verkiesings.
In April 2009 is Spies herkies tot parlementslid maar hy het kort na sy herkiesing besluit om sy parlementêre setel prys te gee en voltyds as prokureur te praktiseer met ‘n besondere klem op burgerregte litigasie, met AfriForum as vernaamste kliënte.
Sedert Augustus 2009 tree die firma gereeld en op ‘n deurlopende basis namens AfriForum op in ‘n verskeidenheid burgerregte hofaksies asook ‘n verskeidenheid van ander nie-regerings organisasies.