Probleme met die bure – wat kan ek doen?

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn

Die regsverhouding tussen bure is sui generis — eie aan sy soort. Om die bureregtelike verhouding beter te kan verstaan, moet ons eers verstaan wie ons bure is. Die volgende aanhaling uit klassieke Engelse regspraak is waardevol om in hierdie verband in gedagte te hou:

“The rule that you are to love your neighbour becomes in law, you are not to injure your neighbour… Who, then, in law, is my neighbour? The answer seems to be — persons who are so closely and directly affected by my act that I ought reasonably to have them in contemplation as being so affected when I am directing my mind to the acts or omissions which are called in question.” (Lord Atkin; Donoghue v Stevenson 1932).

Alhoewel hierdie omskrywing van ons “bure” baie wyd is, kan ons tog daaruit neem dat ons bure ander persone is wie se belange in ag geneem moet word in die daaglikse gang van ons lewe. Dit kan aan die een kant doodeenvoudig inhou dat ek nie harde musiek moet speel as ander wil slaap nie. Aan die ander kant weer, die feit dat die eienaar van ‘n huis op ‘n gholfbaan onredelik is om van almal om hom te verwag om hulle gholfballe uit sy tuin uit te hou. Burereg behels m.a.w. ‘n reg om jou eiendom ten volle te mag geniet, asook ‘n plig om redelikerwys ander se genieting van hul eiendom te verduur. Burereg beoog om harmonie in die eiendomsbelange van aangrensende grondeienaars te bewerkstellig.

Watter wette is van toepassing?

Suid-Afrikaanse burereg bestaan uit ‘n versameling van ou en ingewikkelde regsreëls, wat soms moeilik is om prakties toe te pas. Beginsels van billikheid, regverdigheid en selfs ingesteldheid speel daarom dikwels ‘n belangrike rol in die beslissing van dispute tussen bure. Daar bestaan nie ‘n rigiede stel reëls wat in ieder en elke geval toegepas word nie. Daar is byvoorbeeld al beslis dat ‘n grondeienaar nie sy buurman kan verplig om strukture wat die grens van sy grond oorskry te verwyder nie, aangesien die eienaar aanvanklik ‘n “traak-my-nieagtige” houding teenoor die oorskryding gehad het. Die feit dat die grondeienaar wie se grond oorskry word, minder skade ly as wat die oorskryder sal ly as hy beveel sou word om die oorskryding te verwyder, is ook in ag geneem (Rand Waterraad v Bothma en ‘n Ander, 1997).

Daar bestaan wel wetgewing wat sekere bureregtelike kwessies reguleer. Op nasionale vlak is die Noise Control Regulations in terme van artikel 25 van die Environment Conservation Act, 1989 uitgevaardig (laai dit gerus hiér af: https://cer.org.za/wp-content/uploads/2014/02/Noise-control-regulations.pdf).

Provinsiale- en plaaslike regerings vaardig ook bywette uit om sekere bureregtelike kwessies (veral geraas) te reguleer. In Gauteng word geraas byvoorbeeld deur die Gauteng Noise Control Regulations, 1999 gereguleer(laai dit gerus hiér af: https://archive.opengazettes.org.za/archive/ZA-GT/1999/provincial-gazette-ZA-GT-vol-5-no-75-dated-1999-08-20.pdf).

Daarin word onderskeid getref tussen “steurende geraas” en “geraasoorlas”. Steurende geraas word bepaal deur die geraaslesing op ‘n SABS goedgekeurde toestel (wat vir minstens 10 minute lank in die teenwoordigheid van die beweerde geraas ‘n lesing moet neem) te vergelyk met die betrokke gebied se aangewese en toelaatbare lesing in die afwesigheid van ‘n beweerde steuring. “Steurende geraas” is ‘n lesing wat die aangewese en toelaatbare lesing oorskry. “Geraasoorlas” word meer subjektief omskryf, en behels enige geluid wat die rus en vrede van ‘n persoon versteur of kan versteur. Dit kan onder andere die volgende insluit: die speel van musiekinstrumente, items te koop aanbied deur te skree of ‘n klokkie te lui, die gebruik van masjienerie en tuintoerusting ens. Beide steurende geraas en geraasoorlas word deur die Regulasies verbied.

Die Regulasies maak verder voorsiening daarvoor dat konsepbywette deur die meerderheid van die inwoners van ‘n woonbuurt by die plaaslike regering ingedien kan word, met die doel om geraasoorlas te identifiseer, te beheer en te verminder. Die plaaslike regering moet dan bepaal of die bywette redelik is. Indien dit wel redelik is moet dit in die Provinsiale Koerant gepromulgeer word vir daardie spesifieke woonbuurt. Hierdie bepaling bied ‘n nuttige oplossing aan inwoners van raserige buurte en stel hulle in staat om stilte af te kan dwing.

Wat kan ek doen?

Die eerste stap wat u kan neem om u bureregte te beskerm, is om doodeenvoudig die persoon wie dit skend te vra om op te hou. U kan ook u plaaslike regering nader om ondersoek in te stel. Hulle het die mag om sekere stappe te neem om bureregte af te dwing, wat strek vanaf die oprigting van kennisgewings waarop sekere bepalings verskyn, tot by die beslaglegging van raserige diere.

As die persoon steeds weier om gehoor te gee, is daar verdere regstappe wat geneem kan word. Die mees algemene stap is om die persoon d.m.v. ‘n interdik te verbied om u regte verder te skend. Dit is belangrik om in gedagte te hou dat ‘n interdik slegs toegestaan sal word as die skending wesenlik is en daar geen ander remedies tot u beskikking is nie. Skadevergoeding kan ook geëis word, indien u skade kan bewys.

Daar word in artikel 3 van die Gauteng Noise Control Regulations vir ‘n verdere oplossing voorsiening gemaak. Artikel 3 maak dit vir inwoners van ‘n buurt in Gauteng moontlik om bywette by die plaaslike regering (die munisipaliteit) in te handig om geraas in hul buurt te beheer. Die inwoners van u buurt kan dus saamspan om regulasies vir geraasbeheer in plek te stel, en so kan daar stilte in die buurt afgedwing word.

Die bureregtelike verhouding en die regte en verpligtinge wat dit inhou, verskil van geval tot geval. Die stappe wat geneem kan word om u regte te beskerm, is grootliks afhangend van die omringende omstandighede van elke geval. Daarom nooi ons u graag uit om Hurter Spies Ing. te skakel in verband met enige bureregtelike navrae of bystand.

Nog artikels

Wat is Skuldberading?

Deur Jacque H Degenaar In die seldsame tye waarin ons leef vandag is almal onder groot finansiele druk. Almal soek na maniere

Hoe eis mens by die Padongelukkefonds?

Die Padongelukkefonds is ‘n statutêre liggaam wat deur die wet ingestel is om die stelsel van skadevergoeding te administreer vir skade wat