Monetêre jurisdiksie van Suid-Afrikaanse howe

Share on facebook
Facebook
Share on twitter
Twitter
Share on linkedin
LinkedIn

Die term “jurisdiksie” verwys na die bevoegdheid van ‘n hof om ‘n bepaalde aangeleentheid aan te hoor en daarin uitspraak te lewer. ‘n Hof kan nie uitspraak lewer in ‘n aangeleentheid waarin dit nie oor jurisdiksie beskik nie. Daar is verskeie faktore wat in hierdie verband in ag geneem word. In siviele sake is veral die bedrag wat geëis word van deurslaggewende belang in die bepaling van welke hof jurisdiksie het om die aangeleentheid aan te hoor. “Monetêre jurisdiksie” verwys na die bevoegdheid van ‘n betrokke hof om uitspraak te lewer in ‘n aangeleentheid waar die lewering of oordrag van enige roerende of onroerende eiendom geëis word. Dit hou dus nie slegs verband met ‘n vaste bedrag geld nie, maar ook met die waarde van ‘n saak waaroor ‘n geskil handel (bv. ‘n motor of ‘n huis).

Artikel 29 van die Wet op Landdroshowe, 1944 (Wet no. 32 van 1944) bepaal dat ‘n Distrikshof jurisdiksie het in aangeleenthede waar die eisbedrag of die waarde van die saak waaroor die geskil handel nie R200 000 oorskry nie. ‘n Streekshof het weer ingevolge artikel 29 jurisdiksie in aangeleenthede waar die eisbedrag of die waarde van die saak waaroor die geskil handel meer as R200 000 is, maar minder as R400 000. In Minister of Police v Regional Magistrate Oudtshoorn and Others (15587/2013) [2014] ZAWCHC 165 is egter beslis dat Streekshowe wel jurisdiksie het in aangeleenthede waar die eisbedrag of waarde van die saak minder as R200 000 is, alhoewel die bewoording van die Kennisgewing waarin die bedrae vasgestel word dit anders laat blyk. Gevolglik het Streekshowe effektiewelik jurisdiksie in alle aangeleenthede waar die eisbedrag of waarde van die saak minder as R400 000 is. Indien die eisbedrag of waarde van die saak R400 000 oorskry, sal ‘n Landdroshof nie oor jurisdiksie in die aangeleentheid beskik nie en moet so ‘n geskil voor die Hoë Hof beslis word.

Ter illustrasie het ‘n Distrikshof met ander woorde nie die bevoegdheid om te bepaal dat die eiendomsreg oor ‘n motor ter waarde van R250 000 nie regmatig oorgedra is nie, aangesien die waarde van die motor R200 000 oorskry. Hierdie aangeleentheid val wel binne die jurisdiksie van ‘n Streekshof, aangesien die motor se waarde onder R400 000 is. Beide ‘n Distriks- en ‘n Streekshof sou oor jurisdiksie beskik het as die waarde van die motor onder R200 000 was.

Artikel 38 van die Wet op Landdroshowe bepaal verder dat ‘n eiser afstand mag doen van ‘n deel van die bedrag wat geëis word, om sodoende die aangeleentheid binne die jurisdiksie van ‘n bepaalde hof te bring. ‘n Skuldeiser aan wie R210 000 verskuldig is kan met ander woorde afstand doen van R10 000 om die aangeleentheid binne die jurisdiksie van die Distrikshof te bring. Artikel 40 bepaal dat verdeling van ‘n eis om sodoende die aangeleentheid binne ‘n bepaalde hof se jurisdiksie te bring, egter nie toegelaat word nie indien die oorsaak van die eis op presies dieselfde feite berus. ‘n Skuldeiser aan wie R300 000 verskuldig is vir die verkoop van ‘n motor, kan dus nie twee aparte eise van R200 000 en R100 000 instel om sodoende die aangeleentheid binne die jursidiksie van die Distrikshof te bring nie.

Daar moet laastens ook in gedagte gehou word dat die Hof vir Klein Eise ‘n toeganklike weg aan skuldeisers bied, waar eise tot en met die waarde van R20 000 aangehoor word. Hierdie bedrag is op 1 April 2019 verhoog vanaf R15 000. Alhoewel geen regsverteenwoordigers in die Hof vir Klein Eise toegelaat word nie, kan u gerus Hurter Spies kontak om die proses aan u te verduidelik.

Nog artikels

Wat is Skuldberading?

Deur Jacque H Degenaar In die seldsame tye waarin ons leef vandag is almal onder groot finansiele druk. Almal soek na maniere

Hoe eis mens by die Padongelukkefonds?

Die Padongelukkefonds is ‘n statutêre liggaam wat deur die wet ingestel is om die stelsel van skadevergoeding te administreer vir skade wat